Here is the English version of this post.
Dis moeilik om aan enigiets te dink behalwe Gaza vanoggend. 'n Paar ure gelede, nog net half-wakker, lê ek in die bed en lees dat die Madleen deur Israel onderskep is. Die Madleen, as jy nie geweet het nie, is 'n seiljag wat hulp vir Gaza wou aanbring. Vanselfsprekend gaan 'n enkele bootjie se proviand nie veel van 'n verskil maak vir tweemiljoen honger mense nie, maar Greta Thunberg was op die boot, en 'n klomp ander bekende aktiviste. Dit het gegaan oor die simboliese impak daarvan, dit het gegaan daaroor om die aandagafleibare en apatiese publiek se oë te vestig op 'n tragedie wat steeds aan die gebeur is, 'n tragedie wat nooit ooit hierdie punt moes bereik het nie.
Israel het dit afgemaak as 'n “selfie yacht,” 'n onbenulligheid. (Tog het hulle die moeite gedoen om dié onbenulligheid uit die weg te baan.) Soos ek hierdie skryf weet ons nie of die twaalf vrywilligers aanboord nog veilig is nie.
Dit reën al vir dae hier by ons. Ons inrit is 'n modderpoel; twee karre het vanoggend vasgesit (een sit steeds). Dis enjins wat ref, vergeefse raad wat heen en weer gegooi word (“link, links! Okay nee, regs! REGS!”), toue wat ingespan word, toue wat breek, klippe wat gepak word. Ek kyk na my holy basil en my roosmaryn, beide met sorg van steggie af gegroei, wat net so langsaan die bakkie se agterwiele staan en bibber. Elke keer dat die wiele gly kom hulle nader aan my plantjies. Ek krimp ineen, gaan sit binne sodat ek nie die onafwendbare hoef te sien gebeur nie.
Intussen: In Gaza ly 71 000 kinders onder die ouderdom van 5 aan akute wanvoeding. Teen volgende jaar, as niks verander nie, gaan hulle almal sterf van die honger.
Buite gly die bakkie nog rond. Ek hoor 'n harde slag – seker in een van die huis se steunpale vasgegly. Ek gaan sit my lou koppie koffie in die mikrogolf, check my e-pos. Iemand het my geantwoord op 'n werksaansoek wat ek twee maande gelede ingedien het, lankal van vergeet het. As ek hulle redigeringstoets kan slaag het ek die job.
En in Gaza is meer as 50 000 kinders sedert Oktober 2023 al dood, en die sterftes neem al hoe vinniger toe.
Dis nou half-twaalf, ek het nog nie geëet nie, te veel koppies koffie gedrink. Ons kombuis lyk soos 'n slagveld; dit was 'n woeste naweek gewees. Ek kyk na die ongewaste skottelgoed en besluit om dan maar eerder honger te bly vir nog 'n uur – vir hierdie stapel sien ek nie nou kans nie. Ek gaan sit in my bed met my rekenaar op my skoot en sit my verwarmer aan.
Sedert Maart 2025 word 'n gemiddeld van 30 kinders daagliks in Gaza doodgemaak.
'n Vriendin whatsapp my om te hoor of ek by haar stapgroepie wil aansluit. My boetie stuur 'n foto van hom en sy meisie wat knus in die bed sit met pizza en Lord of the Rings op die laptop. 'n Druipnat suikerbekkie sit vrolik in die boom voor my kamervenster en skud sy vere reg.
***
Oormore vlieg my ma Egipte toe. Die dag daarna sluit my sussie haar vanuit Rwanda by haar aan. Saam met omtrent 3 000 mense van regoor die wêreld gaan hulle dan vir die volgende paar dae oor die Sinai-woestyn Gaza toe stap, om te eis dat hulp in Gaza ingelaat word. Daar gaan hulle uitkamp vir die volgende paar dae, vreedsaam maar knaend, nie-polities maar dringend. (Want hierdie is fokken dringend.) Dis gewone mense dié, mense soos my 58-jarige Afrikaanse ma, mense soos my sussie, self 'n ma van vier kinders, wat hulle eie fondse moes insamel om te kon gaan. Wat geen idee het wat op hulle wag nie, want 'n mens kan nie voorberei op die onvoorbereibare nie.
'n Deel van my wonder of dit die moeite werd is om 'n mens se lewe só in gevaar te stel terwyl Israel onverbiddelik elke poging met blote handgebaar stopsit. Gaan dit help? Wat gaan 'n paar duisend ma’s en sussies en broers en seuns kan verrig wat Amnesty International en UNICEF nie kon doen nie? En tog. As die regerings dan niks gaan doen nie, as die groot kokkedore dan gaan wegkyk, dan moet gewone mense die tuig opneem. Want hoe dan anders? Wie dan anders?
My ma herinner my gister op die foon dat ek die eksekuteur is van haar testament – net vir ingeval. Sy sê as iets sou gebeur moet ons tog nie onnodig geld spandeer aan 'n duur begrafnis nie.
Is vandag een van die laaste normale dae in my lewe? Gaan my sussie se kinders oor tien dae van nou af nog 'n ma hê? Sekerlik tog. Dis gevaarlik, maar nie só gevaarlik nie – so stel ek myself gerus. Dan sypel die kommer terug en ek dink by myself, fok, dalk moes ék eerder gegaan het. Ek het nie kinders nie.
Maar wat my roep is nie om te stap tot by Gaza se poorte nie; wat my roep is om te skryf hieroor soos 'n mens skryf aan 'n onmoontlike gedig. Om te dra hieraan soos ‘n mens 'n kind dra wat eintlik al te groot is vir 'n mens se arms, half skuins op die heup, een arm lankal lam, hart vol. Om my eindelose koppies koffie en rustelose energie en trane – jirlikheid ek huil baie deesdae – in te span, somehow, in 'n klaaglied en 'n towerspel wat my ma en my sussie en elke ander dapper alledaagse mens wat marsjeer te vergesel.
Woorde is niks, woorde is spoeg teen die wind in.
Woorde is álles. Niks het nog ooit verander sonder woorde, sonder stories nie.
Hier is my woorde, beminde brandende aarde. Hier is my woorde, Israeli gyselaars, Palestynse kinders, vlugtelinge, vegters, verliesbelaaide midde-Ooste. Hier is my woorde, verregse Instagram-kennisse, denialists, whatabouters. Hier is my woorde en hulle tel omtrent fokkol, die kleinste druppel in 'n oseaan vol gruwelverliese. Dis al wat ek het:
Solank as wat almal nie vry is nie, is niemand vry nie*. Ja, almal. Hierdie gaan nie oor kante kies nie, dit gaan oor deernis. Solank as wat kinders onder ineengestorte geboue in Gaza lê en sterf, lê en sterf ons almal. Palestina, jy is die kloppende kern, die sigbaarste wond in 'n wêreld vol wonde, en ons sal jou nie alleen laat bloei nie, want om jou alleen te laat bloei is om ons rug te draai op ons eie menslikheid.
Daar is baie van ons, alledaagse mense van regoor die wêreld met uitgeputte overdrafts en deurmekaar harte, met modder-inritte en vuil skottelgoed en 'n vuisvol se woorde. Ons is hier. Ons is kwaad, ons is hartseer. Ons is knaend.
Palestina, ons staan saam met jou.
*Aanhaling toegeskryf aan Martin Luther King Jr.