Ek het hierdie gedig einde verlede jaar geskryf, in die doodsnikke van my laaste romantiese verhouding, na ‘n stewige G&T op my eie op die balkon onder die fel son. Ek was bitterlik in my skik daarmee – ek het jare laas in Afrikaans probeer dig en ek het nogal gedink hierdie poging was ‘n oulike een om my vas mee te breek.
Toe ek die volgende oggend weer daarna kyk toe flop die hele stuk vir my soos gister se slaptjips. Ek was so geskok oor wat ek die vorige dag gedink het goed is dat ek nie sedertien weer ‘n enkele gedig geskryf het nie.
Uit die bloute onthou ek nou die dag hiervan en ek gaan lees dit vir die eerste keer weer, en hierdie keer, sonder drank of bangbabbelas, lyk dit vir my na wat dit was: Lekker om te skryf. Goed of sleg is beside the point.
En omdat ek verlang na skryf in Afrikaans, en verlang na speel, en meer van beide wil doen, deel ek dit sommer hier.
***
Grootprater
‘n Bietjie te warm en 'n bietjie te skerp,
sê ek vir God
die dag wat sy my inroep vir my jaareindgesprek.
Sit net verder weg, sê God,
en kyk my fronsend op en af.
Maar ek wil nie, dink ek, ek wil nét hier wees,
onder die broeiende hitte van haar blik,
klam onder die kraag
'n bietjie kriewelrig
'n bietjie bang.
Okei, wel hou dan op kla, sê God.
(Asof sy my gedagtes kan lees.)
Maar dis lekker om te kla, sê ek vir haar.
Veral so met daai witbrood onder jou arm, kap sy terug.
Ek weet dat sy weet
ek gaan nêrens heen nie.
Veels te halstarrig, veels te nuuskierig,
ten spyte van myself veels te versot daarop om te krap waar
dit nie meer wil jeuk nie.
Ons staar nou al so lank na mekaar,
daar is nie meer borrels in my gin en tonic oor nie.
Die middag word wollerig.
Ek is nie eintlik goed met stilsit nie –
dis haar troefkaart; God het nie ADHD nie.
Ah, maar ek het my menslike verbetenheid,
ek het skin in the game,
ek het die dun straaltjie sweet wat agter my knie verbysypel
en die stoel wat aan my boude vasplak
en die lieflike, liederlike reuk van sout en estrogeen
wat opdam onder my arms.
Gee my sterflikheid elke keer,
dit ruik soveel interessanter.
Wat van jou lover? vra God.
Wat van jóú lover, skiet ek blitsvinnig terug.
Watse lover, vra sy. Goeie punt.
Sy sug. Kyk, jy gaan íéts moet prysgee, sê sy.
Maar ek wil nie. Ek wil alles hê,
en ek wil dit nóú hê, soos Queen,
soos 'n staffie wat nie kan laat los nie,
soos God self. Hoekom kan sý dan alles kry?
Ek het nie alles nie, sê sy;
ek ruik nie so interessant soos jy nie.
Ek steur my nie aan die hunkering in haar stem nie.
As daar 'n witbrood onder my arm is
dan is daar 'n moerse fokken vanilla sponskoek onder hare.
The art of the deal, sê hulle,
is om te maak asof jy niks het om te verloor nie
al woel jou potensiële verliese soos babahondjies onder jou hemp rond.
Ek kyk af na die los vel bo my knieë,
na die moesie op my bors wat al hoe groter word,
na my sweterige hande.
Ek hou sommer skielik van myself,
van my banggat grootpraterige self –
'n bietjie moeg, 'n bietjie babelas,
meer as 'n bietjie buite my liga.
All in, sê ek, en stoot my skyfies vorentoe.
And cruuuunch! Like it's nothing *heart eyes* <3